Routine & Sleep Training For Babies Designed For Happy Families. Lovingly guide your baby in the gentle art of unassisted sleep.
Home

Who is Baby Love?

Contact Us

Benefits of Baby Love

Our Programs

Our Services

Sleep training

Success Stories
Baby Love Nannies
Baby Love Singletons
Baby Love Twins, triplets, quads
Baby Love Toddler Love

Support

Become a Baby Love Consultant

Baby Love Media

Links

Leer baba om te slaap soos 'n baba

As baba se nagtelike manewales almal se gemoedsrus versteur, is slaapafrigting dalk die antwoord. Ons bekyk die gewildste metodes om jou naguiltjie so ver te kry om deur te slaap.
Deur Shanda Luyt

VIR DIE MEESTE ouers is die begrip "baba" gelyk aan "slapelose nagte", veral in die eerste paar maande. Maar as dit te lank voortduur en jy te moeg word om 'n goeie ouer te wees, of as jou baba permanent moeilik is weens slaapgebrek, kan jy dalk slaapafrigting oorweeg.

Die geheim van slaapafrigting lê daarin om jou baba te leer om sonder jou hulp weer aan die slaap te raak as hy in die nag sou wakker word.

Wat die meeste ouers van slaapafrigting afskrik, is die moontlikheid dat baba protes gaan aanteken.

Daar is wel 'n paar kenners wat reken dat slaapafrigting sonder trane moontlik is, al duur dit gewoonlik langer.

Ons het van die bekendste slaapafrigtingmetodes gaan bekyk.

Huil dit uit

Ouerskap moet 'n plesier wees, sê Jacqui Flint van die Baby Love-slaapprogram. "Dit hoef nie oor slapelose nagte en skreeuende babas te gaan nie."

Vir babas ouer as drie maande gebruik hulle 'n afrigtingsmetode wat "die 15-minute-reël" genoem word. Jacqui waarsku egter dat die metode nie in insolasie ingespan moet word nie; slaapafrigting is 'n holistiese proses. "Baby Love-agente kan help om seker te maak die regte dagroetine is in plek," sê Jacqui.

"Daar is 'n rede waarom jou baba nie slaap nie en daarom moet die agent verstaan wat in baba se roetine aangaan en wat snags gebeur. As die regte dagroetine geld, sal die nagroetine outomaties in plek val."

Die 15-minute-reël-metode werk so:
- Gee jou baba omtrent vyf minute voor slaaptyd "stil tyd" sodat hy ná sy besige dag rustig kan word. Gebruik in dié tyd 'n vaste kodewoord vir slaaptyd, soos "doedoetyd". Sê dit in 'n lae, sagte stemtoon. Vermy alle oogkontak.
- Volg 'n vaste slaaptydritueel: Neem baba na sy kamer terwyl jy sy naam en die kodewoord herhaal. Wys dat jy die gordyne toemaak (omdat dit nou doedoetyd is), sit klassieke musiek op (want dis doedoetyd) en gee hom sy spesiale kombersie of fopspeen (want dis doedoetyd).
- Vertroetel baba, gee 'n drukkie en sit hom vaak maar wakker in sy bed. Verlaat die vertrek.
- As baba begin huil, evalueer die huil-klankie en los hom 15 minute lank om hom die geleentheid te gee om homself sonder jou hulp te kalmeer. Sy huiltjie sal gewoonlik 'n moeë huiltjie wees en dan begin omsit in 'n kwaai gehuil omdat hy nie kry wat hy wil hê nie, naamlik dat jy hom aan die slaap wieg.
- As baba ná 15 minute nog nie bedaar het nie, gaan die vertrek binne. Moenie oogkontak maak nie. Herhaal sy naam en "doedoetyd", maak seker alles is reg en verlaat weer die vertrek.
- Daar is slegs een 15-minute-inloer - hierna los jy jou baba tot hy slaap, al huil hy deurentyd. "Om elke 15 minute weer na die baba toe te gaan is meer stresvol vir hom en vir jou, want dit skep elke keer by baba die verwagting dat jy hom gaan optel en troos," sê Jacqui.

Veral geskik vir: babas ouer as drie maande, veral babas met 'n sterk wil, omdat hulle nie die geleentheid het om die ouer te manipuleer nie. Dit sal ook werk vir ouer babas wat reeds swak slaapgewoontes het.
Pluspunte: Jy hoef nie keer op keer jou baba huilend te verlaat nie, maar kan jou afsluit.
Uitdagings: Dis traumaties om jou kind te hoor huil en niks daaraan te doen nie. Sodra jy vrede gemaak het dat huil deel van slaapafrigting is, gaan dit makliker.

Beheerde-huil

Die beheerde-huil-metode word deur kenners soos Gina Ford aanbeveel, maar dis die pediater Richard Ferber - direkteur van die sentrum vir pediatriese slaapversteurings by die beroemde Boston-kinderhospitaal in Amerika en skrywer van Solve Your Child's Sleep Problems - wat as vader van dié metode beskou word.

Dié slaapplan werk so:
- Volg elke aand 'n liefdevolle, voorspelbare slaaptydroetine.
- Sê nag vir baba, sit hom vaak maar wakker in sy bed en verlaat die vertrek, al huil hy.
- As baba aanhou huil, wag 'n paar minute buite die kamer voor jy ingaan om hom te troos. Jy kan hierdie wagtyd aanpas na gelang van jou eie voorkeure, maar Richard stel voor dat jy jou baba die eerste nag drie minute lank laat huil voor jy weer ingaan.
- Troos jou baba 'n minuut of twee lank deur hom in 'n sagte, strelende stem gerus te stel en hom gerusstellend te tik terwyl hy in sy bed lê. Hou die ligte gedemp en moet hom nie optel of voed nie. Moenie lank vertoef nie.
- Verlaat weer die kamer terwyl baba nog wakker is. Bly nou langer weg. Ferber beveel aan dat jy die tweede keer vyf minute lank wag. Herhaal stap vier en gaan weer uit. Wag hierna sowat 10 minute voor jy weer teruggaan en stap vier herhaal. Wag hierna elke keer 10 minute voor jy teruggaan om te troos.
- Die wagperiodes tussen troossessies moet met elke daaropvolgende nag geleidelik verleng word. Die tweede nag kan jy jou baba vir vyf minute laat huil voor jy gaan troos, dan 10 minute en daarna 12 minute tussen elke troossessie.
- Hou hierdie roetine vol tot jou baba aan die slaap raak terwyl jy buite sy kamer is. Volg dieselfde roetine as baba in die nag wakker word.

Volgens Ferber behoort dit tussen 'n paar dae en 'n week te duur voor dié metode werk, maar daar is uitsonderings.

Veral geskik vir: babas tussen drie en ses maande, veral babas met 'n sterk wil.
Pluspunt: Dit lewer gewoonlik vinniger resultate as die sagter benaderings.
Uitdagings: Dis vir ouers moeilik en ontstellend om hul baba te hoor huil. Jou baba kan erg ontsteld raak en selfs opgooi. Ferber stel voor dat jy hom dan skoonmaak sonder om oogkontak te maak en weer die kamer verlaat.

Die onttrekkingsmetode

Die Britse slaapkenner Andrea Grace, skrywer van Teach Yourself Baby Sleep, beveel die onttrekkingsmetode aan (hierdie metode word in 'n kombinasie met ander metodes in die Baby Sense-slaapmetode van Megan Faure en Ann Richardson gebruik):

- Volg 'n vaste, goeie slaaptydroetine wat wys dat dit byna slaaptyd is sodat jou kind hom daarop kan voorberei.
- Sit jou baba in sy bed en sit by hom tot hy aan die slaap raak. Jy kan sy handjie vashou, so na as moontlik aan hom sit en selfs halflyf in die bed hang. Moet hom net nie optel, voed of bottel gee nie. Herhaal sowat twee nagte.
- Sodra baba gemaklik aan die slaap raak terwyl jy by hom sit, verbreek fisieke kontak met hom. Bly in die kamer langs sy bed, maar moenie aan hom raak nie. Vermy oogkontak. Doen dit sowat twee aande of tot hy gemaklik so aan die slaap raak.
- Skuif jou stoel of kussing hierna geleidelik elke aand 'n bietjie verder van sy bed af tot jy uiteindelik buite sy kamer is, maar waar baba jou steeds kan sien. Stel jou baba gerus dat jy daar is, maar vermy oogkontak. Dit kan verskeie weke duur voor jy heeltemal uit baba se kamer is.
- As baba in die nag wakker word, gebruik dieselfde benadering en sit op die afstand wat jy was toe jy hom in die bed gesit het.

Veral geskik vir: 'n baba van enige ouderdom en meer spesifiek vir veral ouer babas vir wie jy al mooi kan verduidelik dat jy steeds daar is, maar net 'n bietjie verder weg gaan sit. En ook ideaal vir babas met 'n meer sagte en maklik aanpasbare temperamente.
Pluspunt: Jy hoef nie jou baba te laat huil nie.
Uitdagings: Dit is nie so maklik nie en gaan baie tyd en toewyding van jou verg, kan selfs vervelig wees en kan lank duur. En wees gewaarsku - jou baba kan jou probeer manipuleer.

Tel-op-sit-neer

Wyle Tracy Hogg, skrywer van Secrets of the Baby Whisperer, was 'n groot kritikus van metodes waar die baba alleen in die vertrek lê en huil. Sy het beklemtoon dat goeie slaapafrigting altyd gepaard moet gaan met 'n goeie dagroetine. Sy het die tel-op-sit-neer-metode aanbeveel:
- Volg 'n goeie, kalmerende slaaptydroetine.
- Sit jou baba vaak maar steeds wakker in haar bed neer.
- As sy huil, selfs al is dit dadelik, probeer om haar in die bed te troos. As dit egter nie werk nie, moet jy haar optel, wieg en dalk met sjjjj-geluide probeer troos tot sy ophou huil. En sodra sy ophou met huil, moet jy haar dadelik weer in haar bed neerlê terwyl sy wakker is.
- Moenie die vertrek verlaat nie, maar troos jou baba elke keer as sy huil, al is dit 100 keer dieselfde nag. Jy kan haar in haar bed probeer troos en as dit nie werk nie, haar slegs dan optel en in jou arms troos. Maar sit haar weer neer sodra sy ophou huil terwyl sy nog wakker is.
- Jy behoort metteryd jou baba algaande ál hoe minder op te tel namate sy begin leer om haarself tot bedaring te bring.

Veral geskik vir: babas ouer as drie maande, veral sensitiewe babas wat moeilik aanpas by verandering.
Pluspunte: Jy hoef jou baba nie te laat huil sonder dat jy haar nie kan troos nie en dit is dus vir jou 'n veel minder traumatiese ervaring. Op hierdie manier is dit vir jou baba ook heelwat minder traumaties.
Uitdagings: Jy gaan baie deursettingsvermoë moet hê. Want die slaapafrigting-metode kan veeleisend wees en dalk baie van jou energie dreineer, aangesien dit jou verskeie slapelose nagte en baie optel gaan kos soos jy probeer om die aanpassing vir jou baba om alleen aan die slaap te raak, makliker te maak. En jou rug kan seer word van al die optel en neersit.

Sleg vir baba?

Sielkundiges soos Jenny Perkel, skrywer van Babies in Mind (Juta), vrees dat 'n baba emosionele skade kan opdoen as sy vir lang tye huil. Jodi Mindell, skrywer van Sleeping Through the Night: How Infants, Toddlers, and their Parents Can Get a Good Night's Sleep, sê egter verskeie studies toon beter ouer-kind-binding ná suksesvolle slaapafrigting. Hierdie studies toon ook dat babas wat slaapafrigting deurgemaak het meer voorspelbaar was en minder gehuil en geknies het as babas wat nie slaapafrigting gekry het nie.

Onthou

Die beskrywings in die artikel is net 'n kort opsomming van die basiese metodes wat gevolg kan word. Vir sukses moet jy 'n dieper studie in die metode van jou keuse maak en dit in sy geheel toepas soos die kenners aanbeveel.

Pak slaapafrigting reg aan

- Besef dat dit emosioneel uitmergelend sal wees. Dis vir geen ouer lekker om te luister hoe hul baba huil nie.
- Sien die langtermyndoel: Dis uiteindelik tot jou én jou baba se voordeel as hy goed slaap.
- Maak seker jy en jou man is albei gereed vir wat wag. Dis is nie iets wat jy alleen kan aanpak nie.
- Weet dat jy slaap gaan verloor, dis onvermydelik. Kies 'n tyd wanneer jy dit betreklik goed sal kan hanteer, soos terwyl jy met verlof is.
- Maak vooraf seker jou kind het nie 'n onderliggende mediese toestand wat sy slaap kan be´nvloed nie.
- Moenie slaapafrigting begin voor of saam met enige dramatiese verandering in jul normale roetine nie.
- Sodra julle op 'n plan besluit het, bly daarby. Dis gewoonlik tweeuur in die nag dat jy die minste krag het om vol te hou, maar as jy ingee, is al jou harde werk verniet en sal jy van voor af moet begin.
- As jy onseker is of jou baba gereed is vir slaapafrigting, beproef dit 'n paar weke lank. As jou baba regtig erg weerstand bied, los dit vir 'n paar weke en probeer dan weer.
- Onthou dat deurslaap nie beteken jou baba gaan vir agt uur aanmekaar slaap nie - deurslaap verwys na vyf tot ses uur ononderbroke slaap.

Bronne:
Jacqui Flint: www.baby-love.co.za
Secrets of the Baby Whisperer deur Tracy Hogg (Vermillion)
Teach Yourself Baby Sleep deur Andrea Grace (Hodder Education)
Solve Your Child's Sleep Problems deur dr. Richard Ferber (Simon & Schuster Adult Publishing Group)

Credit: Baba & Kleuter
Published: January 2010

Baba & Kleuter